Fondasie word gelê vir publieke deelname

Dit het oor tyd al duideliker geword dat die beweging en die sentiment wat ons met die publiek deel, beslis meer gewild is as wat ons aanvanklik verwag het. Daar is duidelik baie mense wat dieselfde voel daar buite.

Die idee agter die Vryburger Beweging was nog altyd om 'n massa beweging te wees met 'n verskeidenheid afdelings. Ons is bly om te kan sê dat hierdie idee nie verander het oor tyd nie, maar verbeter het!

Die realiteit vereis egter van ons om eers te begin kruip voordat ons kan wegspring en hardloop. So graag soos wat ons reeds wil begin publieke byeenkomste hou, vurige toesprake maak en ander opwindende aktiwiteite reël, moet ons eers 'n vaste fondasie lê.

Die Vryburger Beweging se fondasie moet nie net standvastig wees nie, dit moet ook uniek en totaal en al anders gebou word om te kan meeding en uitstaan bo die magdom van reedsbestaande groepe in Suid-Afrika.

Anders as wat sommige mense mag glo, word die Vryburger Beweging nie deur fondse op die been gehou nie, maar deur vrywillige sweet en opoffering. Almal wat tans werk daaraan om die nodige strukture in plek te stel, doen so vrywillig met die klein bietjie vrye tyd wat hulle het. Om slegs deeltyds aan die beweging te werk, vertraag en belemmer natuurlik die vordering wat gemaak kan word, maar met doelgerigtheid en uithouvermoë bou ons voort tot die beste van ons vermoë, een baksteen op 'n slag.

Wat ons wel opgewonde maak is die feit dat die harde werk wat ons nou insit heel waarskynlik merkwaardige resultate vorentoe sal lewer. Die bloudruk van die strukturele model wat saamgestel is, is reeds in plek en is iets besonders. Wanneer die fondasie vir publieke deelname gereed is, behoort die beweging met die strukture wat dit in plek gaan hê, aansienlike organiese groei te toon.

Enige iemand wat al betrokke was met een of ander vorm van projek-bestuur sal weet dat dit fyn en strategiese beplanning benodig. Die Vryburger Beweging is glad nie anders in daardie opsig nie en kan beskou word as 'n massiewe projek wat in fases uitgerol word.

Fase een - was die stinging van die beweging.

Fase twee - waar ons tans is, het te doen met publisiteit en naam-maak vir onsself. Die doel met hierdie fase is ook om vir onsself 'n digitale platform op te bou en genoeg aanlyn volgelinge te kry voordat ons na die volgende fase toe oor beweeg.

Fase drie is waar jy, die publiek uiteindelik betrokke kan raak by een van die vier hoof divisies van die beweging wat die volgende behels:

-Media
-Kultuur
-Ekonomie
-Verdediging

Al vier divisies sal uit 'n verskeidenheid sub-divisies bestaan wat ons nog aan die publiek bekend sal maak met die uitrol van fase drie.

Hoewel ons 'n jeug beweging is, fokus ons veral ook op die kerngesin en beoog ons om voorsiening te maak vir oud en jonk. Ons siening is dat elke liewe Afrikaner, groot of klein, ryk of arm, 'n bydra kan lewer op een of ander wyse. Van die boer, ingenieur en wetenskaplike tot die werktuigkundige en karwag. Alle arbeid is goeie arbeid wanneer dit benut word om die belange van ons Volk te bevorder.

Wat kan die publiek verwag voor die uitrol van fase drie? Onder andere:

-Die vrystel van die beweging se manifes
-Die vrystel van die beweging se erekode
-Die vrystel van afdeling een van Volksnasionalisme - die waardestelsel
-'n Nuwe en opgedateerde webtuiste waardeur die publiek ook sal kan aan teken om betrokke te raak by die divisie van hul keuse.

Met die uitrol van die vier hoof divisies en sub-divisies is daar heelwat opwindende nuus wat nog bekend gemaak sal word, maar ons wil graag die publiek hartlik bedank vir die ondersteuning en geduld tot dusver. Baie mense beskuldig ons daarvan om "net te praat" en niks op grondvlak te doen nie, maar is onbewus van al die harde werk wat ons span in die agtergrond mee besig is om publieke deelname 'n realiteit te maak.

Los gerus jou kommentaar hieronder en laat weet ons waarom jy opgewonde is oor die uitrol plan en waarom jy aanklank vind by die Vryburger Beweging. Laat weet ons ook wat jou hoop en visie vir die toekoms van die beweging is.

Previous
Previous

Vryburger Media is hier!

Next
Next

Potgooi nou op Odysee