Die van Dalen saak - 'n Tydlyn van gebeure en valse berigte

Die presiese feite en gebeure rondom die hele skietvoorval in Robertson bly vir baie 'n onduidelike saak. Wanneer die kommentare onder hoofstroom media berigte gelees word is dit duidelik dat meeste mense nie die eenvoudige weergawe van die storie net so aanvaar of glo nie. Mense is vinnig om teenstrydighede uit te wys en baie nodige vrae te vra.

Ons span hier by Vryburger Media het die inisiatief geneem om die saak verder te ondersoek en 'n tydlyn op te stel van al die gebeure. Deur so te doen, vergemaklik dit ook die proses om die saak beter te verstaan en te ontleed.

Junie, 2026 - Vroër bewyse van teistering

Die vroegste beeldmateriaal wat deur Cornelius van Dalen self op sosiale media gedeel is, bevat die tydstempel 9.06.2026. Dit rugsteun sy latere sosiale media plasing op die dag van die skietvoorval, waar hy uitgewys het dat hy al maande gelede geteister word omdat hy dwelm-bendes in die omgewing ontbloot het wat volgens hom saam met lede van die polisie werk.

In sy sosiale media plasing, deel Cornelius beeldmateriaal van die polisie se besoek op 09/06/2026 wat hy met sy eie sekuriteit kamera vasgevang het. Dit is in hierdie beeldmateriaal waar daar gesien kan word hoe die polisie baie verdag ronddwaal en dan ook verstellings maak aan Cornelius se sekuriteit kameras, 'n duidelike aanduiding dat hulle nie daar was om enige wettige of amptelike besoek af te lê nie.

Dit is vermoedelik ook op hierdie dag wat die polisie toegang tot Cornelius se woning verkry het om dit te deursoek. Hy verwys daarna in sy sosiale media plasing waar hy die volgende genoem het:

"When I exposed the gangsters they ran to the corrupt police that work for them, they then came to steal my firearms with fraudulent paperwork"

Cornelius het verder ook genoem dat:

"When that intimidation didn't work they tried to set me up for a hit, when that didn't work they tried to bribe me, when that didn't work they sent every low life degenerate gangster and hitman to assassinate me."

16.08.2026 - Dag van die skietgeveg

Cornelius se sosiale media plasing lees:

"Tonight the corrupt police on orders from their cartel bosses came to take me out, guess what, you found out this Boer won't take your shit. I won't bend for any lowlife gangster rat or the blue uniforms that do their bidding. You give the good police men and women who risk their lives everyday a bad name. It's time the good people stand up against them."

Dit is van hierdie oomblik af, die middag van die 16de Augustus, waar beeldmateriaal wat later die wêreld in gestuur sal word, deur die grondeienaar, Karl Smith, afgeneem word.

In die nou bekende video wat sirkuleer, daag Karl Smith saam met 6 polisie lede by van Dalen se woning op. Daar word geen rede vir hul besoek genoem nie, behalwe dat hulle toegang tot sy woning wil hê.

Dit is hier waar ons weer moet uitwys dat die polisie reeds van tevore toegang tot sy woning verkry het, die plek deursoek het en selfs gepoog het om sy wettige vuurwapens te probeer afneem. Aangesien daar geen arrestasie gemaak was op daardie dag nie, kan ons met redelike sekerheid ook aan neem dat niks onwettig of verdags gevind was op die perseel nie.

In die latere beeldmateriaal wat vasgevang is op die dag van die insident, het nie een van die 8 mense (van Dalen ingesluit) melding gemaak van skote wat afgevuur is op 'n voertuig nie.

Daar kan eerstens waargeneem word dat die polisie slegs daarop aandring om toegang te kry tot hom en sy woning sonder om enige rede te verskaf. In die beeldmateriaal maak Karl Smith ook geen melding van 'n skietery wat op enige voertuie afgevuur is nadat Cornelius reguit vir hom en die polisie vra wat hy verkeerd gedoen het en waarom hulle daar is.

Dit is hier waar twee van die polisie lede dan vuurwapens uit hul skedes haal. (Sien Die Son se video vir beeldmateriaal.)

Let op dat Cornelius op hierdie punt glad nie 'n koeëlvaste baadjie aan gehad het nie, wat 'n aanduiding is dat hy nie sommer net gereed was vir 'n skiet geveg nie.

Dit was ongeveer laat middag toe die skietgeveg begin uitbreek het. Verbygangers wat by die ingang van die kleinhoewe verby geloop het, het die oomblik op video vasgevang toe die eerste skote begin klap. Daar kan gehoor word dat een van die verbygangers sê: "Daar skiet die Boer nou op die polisie". In 'n tweede video kan gesien word hoe 'n reaksievoertuig van die polisie die perseel verlaat met 'n geweldige spoed. Dit was ook tydens hierdie skietery waar die buurvrou, Juanita Louwrens, se geparkeerde voertuig in die kruisvuur beland het.

17.08.2026- Cornelius se dood

Dit is vermoedelik in die vroeë oggendure toe skerpskutters opgedaag het om die polisie by te staan. Later het 'n pantserwa met die polisie se spesiale taakmag opgedaag en eers die buurvrou, Juanita, uit haar huis ontruim, voordat hul aanbeweeg het na van Dalen se woning.

Die skietgeveg het tot die agtermiddag geduur toe die pantserwa gebruik was om deur die perseel te breek en vir Cornelius te vermoor met 4 skote, waarvan ten minste een in die kop was. Cornelius het egter sterk gestaan in sy oortuigings en was trou aan sy bekende laaste woorde:

"if you don't fight for your homes now, soon there will be nothing left to fight for. Make a decision, time is running out. God is on my side, no surrender, I die on my feet, I won't live on my knees."

18/08/2026 - Die hoofstroom media slaan toe

Vanaf die 18de Augustus begin die eerste media berigte hul verskyning maak, met opskrifte soos:

"Armed man shot dead after nine-month reign of terror on Robertson farm" (NovaNews)

"Bekendes op lys, "vyande van die volk" (Die Burger)

"Gunman op Robertson skiet glo meer as 250 keer op cops" (Die Son)

“Terroris sterf op plaas” (Breederivier Gazette)

Wanneer daar egter deur die media berigte gelees word, is dit duidelik dat daar onmiddelik 'n narratief geskets word oor Cornelius, lank voor daar nog enigsins 'n behoorlike ondersoek ingestel is op die voorval. Duidelik word die indruk geskep dat van Dalen 'n geestelik versteurde man was wat bloot op sy buurvrou en die polisie begin losbrand het.

Verder word daar in sekere hoofstroom media artikels beweer dat hy bande met ekstremistiese bewegings gehad het, en 'n foto is ook gedeel waar hy kamstig as kind met die AWB vlag langs sy oupa staan.

Daar is ook beweer dat 'n lys van name gevind was wat Cornelius beskou het as vyande van die volk.


Hoofstroom media leuens:

Dit vereis nie veel ondersoekwerk om die media se leë sensasionele narratiewe verkeerd te bewys nie. Telke male is daar direkte teenstrydighede wat opgemerk kan word oor die verloop van sake.

In die heel eerste berig deur NovaNews, word daar pertinent genoem dat 'n buurvrou se motor getref was in die voorval, maar dat daar niemand in die voertuig was tydens die insident nie.

Latere berigte deur verskeie media bronne skep dan die indruk dat die vrou, Juanita Lourens, binne in die voertuig was tydens die geskietery.

Soos voorheen genoem, in die beeldmateriaal van die voorval, vra Cornelius aan die polisie wat hul daar soek en op geen stadium word daar genoem dat hulle daar is oor hy op sy buurvrou se voertuig geskiet het nie, slegs dat hulle toegang tot sy perseel wil kry. Onmiddelik kan ons hier 'n paar logiese kwessies uitwys. Eerstens, die polisie se gemaklike en rustige liggaamstaal met wapens wat nog op hul heupe rus, iets wat glad nie pas by die gespanne atmosfeer wat 'n verwagte skietery voorafgaan nie.

Daar word telke male genoem dat Cornelius op sy buurvrou se voertuig losgebrand het en toe ook op die polisie nadat hulle daar opgedaag het. Dit is duidelik nie die geval in die beeldmateriaal waar daar eers 'n oor en weer woordewisseling plaasgevind het. Van Dalen het ook nie tydens hierdie oomblik 'n wapen in hand gehad nie.

Vryburger Media het kort na die voorval plaasgevind het, kontak gemaak met Juanita Lourens, die buurvrou waarop daar na bewering geskiet is.

Aanvanklik het sy net genoem dat Cornelius 'n stil man was wie sy nie regtig geken het nie. Sy het slegs genoem dat die polisie haar ontruim het en dat alles baie duister was vir haar. Dit wou voor kom asof sy nie heeltemal bewus was waarom die polisie daar was nie. Op geen oomblik het sy genoem dat daar op haar of haar voertuig deur van Dalen geskiet was nie.

Dit was egter eers 'n paar dae nadat die hoofstroom media sulke aantygings begin maak het dat ons haar weer gekontak het en uitgevra het oor wat in die koerante beweer word. Hierdie keer het sy haar storie verander en dieselfde narratief as die media voorgehou, dat dit 'n storie is wat al 'n lang pad kom en dat Cornelius hulle geintimideer en gedreig het. Hierdie is natuurlik heeltemal teenstrydig met haar vorige boodskappe waar sy beweer het dat Cornelius baie stil was en dat sy nie regtig veel van hom geweet het nie. Ons het haar ook gevra of sy werklik in die voertuig was soos sekere media berigte beweer het, maar sy het ons nooit weer terug geantwoord nie…

Was Juanita oneerlik, omgekoop of geintimideer om skielik die polisie en media se narratief voor te hou? Daaroor kan ons slegs spekuleer, maar dit is wel verdag hoe sy haar storie verander het...

Maroela Media, wat vinnig was om in 'n artikel te beweer dat die jong seun met die AWB vlag Cornelius was, moes dit later verwyder na Cornelius se ouers uitgereik het en hul in kennis moes stel dat dit glad nie hy was nie. Die foto het geen verbintenis aan Cornelius of sy gesin nie.

Maroela Media het intussen geen amptelike verskoning gevra of die saak reg gestel in 'n opvolg artikel nie.

Ander hoofstroom media bronne wat beweer het dat Cornelius bande met ekstremistiese groepe gehad het, moes ook hul bewerings terug trek weens 'n gebrek aan bewyse. Dit is duidelik dat die storie slegs uit hul duime gesuig was om Cornelius se naam verder swart te smeer.

Dit is ook ironies dat ander bewerings, soos die sogenaamde lys van name wat daar kwansuis gevind was tot nou toe nie bekend gemaak is nie. Indien dit werklik bestaan, waarom is daar tot nou toe nog geen foto’s of bewyse daarvan gedeel nie?

Dit is ‘n bekende taktiek wat korrupte owerhede vir jare lank al gebruik om valse bewyse te plant op die toneel van 'n persoon wat hulle wil stilmaak, iets wat ons veral kan sien teen regses en konserwatiewes gebruik word deur die jare heen. Hierdie taktiek begin normaalweg ook met pogings om die individu om te koop of af te pers en dan later op verskeie maniere te intimideer - iets wat Cornelius ook in sy sosiale media plasing genoem het met hom gebeur en beeldmateriaal voor gedeel het.

Indien Cornelius wel polisie betrokkenheid met plaaslike dwelm bendes ontbloot het, wat 'n beter manier is daar nie om die aandag daarvan af te lei nie as om valse bewering oor hom te maak en "bewyse" te plant op die toneel nie? Dit sal sekerlik ook nie die eerste of die laaste keer wees wat hierdie taktiek deur die korrupte SAPD gebruik word nie.

In die foto’s wat Maroela Media later gedeel het van die ongewoon hewige diefwering wat Cornelius voor sy vensters en deure opgesit het, is dit ook duidelik dat hy vir sy lewe gevrees het.

Ten slotte, na alles wat hier genoem is, kan ons met redelike sekerheid sê dat die "amptelike" narratief wat deur die media en polisie voorgehou word, nie die volle en ware storie vertel nie.

Cornelius word uitgemaak as 'n kranksinnige en radikale terroris, maar aan die einde van die dag is dit sy woord teen die woord van die liberale hoofstroom media en die korrupste polisiediens op aarde. Ons kies Cornelius se kant en sal aanhou om 'n stem te wees vir 'n jong Boer wie se stem van hom ontneem is.

Volg die storie soos dit ontvou deur Vryburger Media dop te hou.

Ons hoop jy het hierdie artikel geniet. Los gerus jou kommentaar hieronder en laat weet ons wat jou gedagtes is. Voel asseblief ook vry om hierdie artikel rond te deel en ons te help om die waarheid daar buite te kry. Vir meer inligting oor die Vryburger Beweging of om aan te sluit, besoek gerus on webtuiste HIER. Indien jy graag die beweging finansieel wil ondersteun, kan ‘n donasie op ons GiveSendGo rekening gemaak word.

Dankie vir jou ondersteuning!

Next
Next

Onderhoud en ontmoeting met die Derde-Weg